Boodskap van die hoofdogter

Wat ‘n ongelooflike voorreg! Hoofdogter van 2026!
Baie dankie aan die onderwysers en leerders wat hierdie droom ‘n werklikheid gemaak het. Dankie vir die vertroue wat in my gestel is om hoofmeisie te wees. Dit beteken vir my meer as om ‘n geel koord te dra en toesprake te lewer. Vir my is dit ‘n geleentheid om elke dag met passie en toewyding op te tree. Dit is ‘n pad van groei, diens te lewer en alles met trots aan te pak.
My doel is om ‘n brug te wees tussen die onderwysers en leerders van Noordskool. Ek wil graag elke leerder inspireer om die beste van hulself te wees en hulle drome en ideale na te streef.
Hier by Noordskool is soveel aktiwiteite waar jy jou talente kan uitleef in akademie, sport en kultuur, ek wil graag elke leerder aanmoedig om hul beste te gee, deel te wees van die span by Laerskool Krugersdorp Noord en ons skool se naam hoog te dra!
Ek glo dat ware leierskap begin by dienslewering. ‘n Goeie leier luister na ander, werk saam as ‘n span en help waar jy kan. Dit is my visie vir 2026. Ek probeer altyd om vriendelik, behulpsaam, betroubaar en eerlik te wees, sodat ander leerders weet hulle kan op my staatmaak en vertrou.
Graag wil ek julle los met die volgende Teksvers:
Josua 1:9
‘Ek self gee jou die opdrag, wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.’
2026 – Hier kom ons!
Nories, saam gaan ons WERK EN WEN en dit ‘n ongelooflike jaar maak!
Simone Waldick
