Boodskap van die hoofseun

Sjoe! Dit is vir my ’n ongelooflike eer om as hoofseun van Laerskool Krugersdorp-Noord vir 2026 gekies te wees. Hierdie skool was nog altyd vir my baie besonders, en hierdie groot eer laat my terugdink aan waar dit alles begin het. Vandat my sussie as ’n graad eentjie by Laerskool Krugersdorp-Noord begin het, wou ek net ook deel wees van alles hier. Ek het saam met haar elke sportdag, konsert en skoolaktiwiteit beleef — en selfs toe ek nog ’n klein Norie was, ’n oulike seuntjie (soos my ouma altyd gesê het) wat by Norienes rondgehardloop het, het ek geweet: hier hoort ek!
Ek onthou hoe ek en my suster altyd gestry het oor wie eerste afgelaai gaan word, want ek wou altyd laaste wees sodat ek nog ’n kans kon kry om die groot skool te sien. Toe ek uiteindelik in graad 1 begin het, was ek angstig en ’n bietjie bang, maar ook ongelooflik opgewonde om deel te wees van die groot skool. Gelukkig was my suster altyd daar vir my, en saam het ons soveel mooi herinneringe opgebou.
My juniorjare was vol pret, leer en lag. Graad 4 het uitdagend begin, maar met tyd het dit makliker geraak — en so ook elke jaar daarna. Sport is my groot passie, veral rugby. Deur sport het ek waardevolle vaardighede soos spanwerk, deursettingsvermoë en respek geleer. Ek het my leierskapvaardighede te danke aan my familie, my onderwysers en aan die lesse wat ek deur sport geleer het.
Vandat ek in graad 4 was, het ek vir myself gesê dat ek hard gaan werk om eendag ’n leier van die skool te wees — dalk selfs hoofseun. Toe daardie droom waar word en my naam aangekondig is as Hoofseunvir2026, was ek oorweldig met blydskap en dankbaarheid, want ek weet dat God my gelei het en hierdie eer aan my toevertrou het. Hierdie reis tot dusver het my gewys dat harde werk, geloof en ’n positiewe gesindheid altyd vrugte afwerp – soos ons leuse sê: WERK EN WEN.
Ek wil graag dankie sê aan my ouers, suster en grootouers vir julle onwrikbare ondersteuning, liefde en leiding. Julle het my altyd aangemoedig om my beste te gee en my gehelp om te groei in die mens wat ek vandag is. Aan my onderwysers — dankie vir julle geduld, wysheid en die waardes wat julle in my ingeskerp het. Julle het nie net kennis gedeel nie, maar ook karakter gevorm. En aan my vriende, dankie vir die lag, die ondersteuning en al die herinneringe wat ons saam gemaak het. Julle het my skoolloopbaan tot dusver besonders gemaak.
Ek sien hierdie rol as hoofseun nie net as ’n titel nie, maar as ’n geleentheid om ’n positiewe verskil te maak — om te dien, te lei en ander aan te moedig om trots te wees op wie hulle is en op ons skool se unieke gees. Ware leierskap beteken om met nederigheid te dien, respek te wys en altyd jou beste te gee — of dit nou in die klaskamer of op die sportveld is.
In 2026 sien ek uit daarna om saam met my mede-leiers, vriende, onderwysers en familie hierdie nuwe hoofstuk aan te pak. Ek sien uit om die nuwe graad eentjies te verwelkom en vir hulle te wys wat dit beteken om ’n ware Norie te wees — soos wat ons ook geleer is toe ons in graad 1 was. Ek weet dat graad 7 uitdagings sal bring, maar ek is opgewonde om dit met moed, geloof en ’n positiewe gesindheid aan te pak.
“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
— Matteus 5:16
“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
— Filippense 4:13
Ek glo dat 2026 ’n jaar vol trots, groei en geloof gaan wees — ’n jaar waarin ons almal ons lig laat skyn en wys wat dit beteken om deel te wees van Laerskool Krugersdorp-Noord.
In die woorde van ons vorige hoofseuns – Jayden Momberg Hoofseun 2024 & Janco Bekker Hoofseun 2025 – My hart klop verseker groen en blou.
Dean Jordaan
