Boodskap van die beheerliggaamvoorsitter
As deel van die Beheerliggaam is dit vir my ‘n voorreg en aangenaam om die boodskap aan u voor te lê.
Laerskool Krugersdorp-Noord is ‘n skool met ‘n ryk geskiedenis en ons skool is een van min skole in Krugersdorp wat kan spog met geslagte oud “Nories” wat deur ons skool beinvloed is. Ons het oor die afgelope paar jaar nuwe en dinamiese uitdagings deurstaan wat eie is aan die tye waarin ons lewe. Ons as Beheerliggaam het die besluit geneem om oor die volgende paar jaar in ons verkose termyn ons daarop toe te spits om die skool te bestuur met ‘n nuwe aanslag.
Die aanslag is baie gefokus op al die rol spelers in ons gemeenskap met ‘n groot klem op die leerders en die onderwysers, sowel as al die ondersteunings dienste wat direk met ons skool werk op ‘n volhoubare wyse.
Die VISIE is: Noordskool ontwikkel elkeen tot sy beste!
Om die paar woorde in die sin uit te leef is ‘n groot uitdaging wat ons op ‘n volhoubare en unike wyse wil aanpak.
Ons MISSIE is: Die skep van ‘n bevorderlike en veilige leeromgewing waarin leerders en onderwysers tot hulle volle potensiaal kan ontwikkel binne ‘n Christelike, Afrikaanse raamwerk.
Dit gaan bereik word deur:
- Goed gekwalifiseerde, toegeruste en gemotiveerde personeel
- Hardwerkende, toegewyde, gelukkige kinders
- ‘n Goeie vennootskap tussen belangegroepe
- Balans tussen akademie, sport en kultuur
- Aanvaarding van verantwoordelikhede van alle belangegroepe
Hiermee saam het ons besluit om sekere doelwitte jaar na jaar te formuleer en deur te voer tot op die punt waar ons die Visie en die Missie van die skool ten volle uit leef. In Suid Afrika het ons ‘n baie dinamiese en veranderlike omgewing beleef oor die afgelope twee dekades, wat dit duidelik uitspel dat ons heelwat meer uitdagings beleef om ons kinders tydens hulle ontwikkelings jare op laerskool die mededingende voordeel te gee. Ons is nie onkundig of oningelig oor die gevolge wat regstellende aksie op ons uitkyk oor die lewe en ons toekoms het nie, maar dit gee ons die insig om die leer omgewing so te beinvloed dat ons die mededingende voordeel aan ons kinders kan aanbied, deur ‘n leeromgewing te skep in Afrikaans waar ons elke kind tot sy/haar beste kan ontwikkel, en met respek vir sy/haar medemens die hoërskool en die volwasse lewe kan uitleef.
Ons personeel is goed gemotiveerd en baie bekwaam om die omgewing konstruktief te beinvloed om die leerders positief te motiveer. Dit is altyd verblydend om die passie en profesionele aanslag te beleef van Laerskool Krugersdorp-Noord se personeel. Deurlopende verbetering is aan die orde van die dag en die ontwikkeling van al ons personeel in ‘n vinnig ontwikkelende omgewing is daarom vir ons ‘n prioriteit en ‘n uitdaging wat ons vierkantig in die gesig moet staar en aanspreek op ‘n deurlopende wyse.
Aan die leerders van Laerskool Krugersdorp-Noord wil ek sê julle is vir ons die middelpunt van die nuwe en unieke pad wat ons gaan stap. Julle is die belangrikste gedeelte van die plan en ons wil elkeen van julle die geleentheid gee om JULLE te ontwikkel tot die beste wat julle kan word. Ons wil jou die beste leerders op akademiese gebied maak, die beste sport seun of sport dogter, of die beste geleentheid gee om ons land deur te toer en te beleef, met jou eie manier van dink en doen. Ons wil graag hê jy moet hard werk en op die beste moontlike manier presteer wat jy kan. Ons skool se leuse is mos “WERK EN WEN”.
Elkeen van julle is vir ons belangrik en ek wil elke kind van Laerskool Krugersdorp-Noord vra dat as jy ‘n goeie idée het om die skool lekkerder te maak vir jou en jou maats, dat jy met Meneer Charles Miller sal gaan gesels en jou voorstelle vir hom persoonlik gee.
Ons het verteenwoordigers op die Beheerliggaam wat oor ‘n breë besigheid, regs, finansiêle, mediese en opvoedings agtergrond en kennis beskik en ons wil graag van u as rol speler in ons pragtige skool hoor. Ons nooi u uit om enige gedagte of projek wat die skool kan verbeter of ons kinders kan bevorder met ons te kommunikeer, genoegsame tyd en kennisgewing om so ‘n projek of inisiatief aan te pak is baie belangrik. Ek het gou geleer dat ‘n skool beperkte tyd het met al die aktiwiteite wat moet plaas vind om die visie uit te leef en dat ons in die verlede goeie projekte moes af wys omdat tyd dit nie toegelaat het nie.
Ek weet dat met die aanslag en die doelwitte wat ons onlangs aan die ouer gemeenskap voorgelê het tydens die jaarlikse begrotings vergadering baie positiewe reslutate sal oplewer en dat ons ‘n nuwe generasie van “Nories” sal sien uit styg oor die volgende paar jaar.