Geskiedenis
1963 tot 1971
Mnr. LJ Bouwer is in Januarie 1963 as skoolhoof aangestel. Op 1 Maart 1963 is sy verwelkomingsfunksie bygewoon deur die destydse LPR, mnr.JC Maree. Die skool was toe ‘n dubbelmedium-skool met 615 leerders. Leerdergetalle het ‘n positiewe groei getoon sodat dit in 1969 667 leerders was.
In September 1963 rig die hoof ‘n brief aan die Transvaalse Onderwys Departement (TOD) met die versoek dat sekere erwe aangekoop moet word ten einde die skoolterrein te vergroot en om moontlike rugbyvelde aan te le. Vooruitgang was aan die orde van die dag. Vier klaskamers, ‘n stoor en ‘n kantoor vir die Vise-hoof moes in Maart 1965 aangebou word. In 1967 is daar ‘n warmwaterstelsel by die skool geinstalleer. Daar was in die jaar ook sprake van die bou van ‘n swembad. ‘n Aanbod van R6000 is deur die TOD aan Noordskool toegeken vir die bou van ‘n swembad. In 1970 is goedkeuring gegee vir die aanbring van ‘n teerpad by die hoofingang van die skool.
Op 27 Februarie 1963 is die eerste Interhuis-atletiekbyeenkoms aangebied. Weens die sukses daarvan is daar besluit dat die byeenkoms voortaan ‘n jaarlikse instelling sou word.
Reeds in die tyd is hier goeie werk gelewer en inspeksieverslae was baie goed. Dit was egter nie net op akademiese gebied waar hoe hoogtes bereik is nie. In 1964 was Noordskool se Voortrekker-Kommando die grootste in die dorp. Selfs die Boy’s Scout-beweging maak in die tyd goeie vordering. Boonop was die skolierpatrollie as die beste in die dorp beskou. Heelwat buitemuurse aktiwiteite was aangebied. Daar was dansklasse deur Anna Nel, Volkspele, krieket, rugby, korfbal, liggaamsonderrig, kuns en Voortrekkers. In 1965 is ‘n operette aangebied waaraan 100 leerders tussen standerd 3 en 5 deelgeneem het.
Die 50 jarige bestaansviering van Noordskool het op 12 Augustus 1969 plaasgevind. In 1972 volg Mnr. DT Luitingh Mnr. LJ Bouwer as skoolhoof op.