Geskiedenis

1972 tot 1983

dtluitingh-1971-1983

Mnr. DT Luitingh aanvaar die hoofpos in Julie 1971 en begin by die skool met ‘n leerdertal van 650. Die skool was op hierdie stadium ‘n dubbelmedium-skool. Die leerdertal aan die einde van 1971 was: Afrikaansmedium 498, Engelsmedium 165 en die totaal was 654.

Hy was ‘n groot man met ‘n groot hart, ‘n man wat as hoof baie ‘eerstes’ by Noordskool beleef het. Die volgende aanhaling uit ‘n koerant (1973) wys dat hy ‘n unieke manier gehad het om met kinders te werk: “Mr. Luitingh has a unique way of keeping the boys hair in check. If I see a boy with exceptionally long hair I tell him I would like him to visit methe next morning, instinctively he knows the reason why and, sure enough, the next morning his hair is a decent length.”

In September word die eerste bevallingsverlof aan Mev. E Dippenaar vir ses maande toegestaan. In 1964 het die vorige hoof, Mnr. LJ Bouwer, begin om met die TOD te onderhandel vir sportgronde. Die huise in Premierstraat en Vierdestraat wat op die selfde terrein as die skool staan moes vervreem word. Die sloping is in 1972 begin. Daarna is die terrein ontbos. Dit is later omhein en een netbalveld is aangele. Gedurende 1973 is ‘n begin gemaak met die bou van die sportvelde. Behalwe vir die rugby- en netbalvelde is daar ook tennisbane gebou. Die sportvelde is in gebruik geneem op 7 Junie 1975.

Die standerd 5’s van 1976 het tydens hulle afskeidsfunksie ‘n brons skoolwapen en skoollied aan die skool geskenk. Die wapen en leuse: “Werk en Wen” is op 2 November amptelik in gebruik geneem, en so ook die skoollied. In 1977 word Noordskool amptelik ‘n Afrikaans-mediumskool.

Gedurende 1982 word daar begin met die aanbouings vir ses nuwe klaskamers en ‘n laboratorium. Na vele en lang onderhandelings wat in 1981 begin is, is daar nou begin met die heruitleg van die sportterrein. Op 23 April 1983 word ‘n pragtige nuwe rugbyveld in gebruik geneem. In November 1983 het die skool 777 Afrikaanssprekende leerders.

Mev. Tony Meyer se: “Daan Luitingh… my herinnering aan ‘n uitsonderlike persoon, al die pret en staaltjies kan op hulle eie ‘n boek vul. Hy het die vermoe gehad om sy personeel in ‘n hegte groep te bind. Daar was hard gewerk, baie gelag en ‘n intense betrokkenheid tussen personeel, ouers en leerlinge. Mnr. Daan Luitingh was ‘n besondere mens en was sy tydgenote in die onderwys jare vooruit. Sy ondersteuning en leiding het van hom ‘n reus gemaak.”

Mnr. Luitingh is op 21 Desember 1983 oorlede. Die joernaalinskrywing lui: “Laerskool Krugersdorp Noord salueer ‘n man met vele talente wat sekerlik diep gemis sal word.”