Geskiedenis

1984 tot 1993

gcvanrooyen-1984-1993

Mnr. Gerrie van Rooyen was vanaf 1982 as adjunkhoof deel van Noordskool. Na Mnr. Luitingh se dood begin hy in Desember 1983 waarneem as hoof, en word die permanente hoof op 1 Augustus 1984. Vir elf jaar was die skool deel van die Van Rooyen-gesin se vreugdes en strewes.

Kultuur het Mnr. Van Rooyen altyd na aan die hart gele, en hy het ook dadelik ‘n Revue-groepie gestig. Die vyf massa-revues wat plaasgevind het tydens sy hoedanigheid as hoof, was dan ook vir hom een van die hoogtepunte. Op sportgebied onthou hy graag toe Laerskool Krugersdorp-Noord in 1989 die eerste Interlaer atletiek-oorwinning behaal het. Om nie te vergeet van die eerste rugbyspan wat in 1990 Transvaal-wenners was nie!

By die skool self is ook aansienlike verbeteringe aangebring in sy tyd en ‘n nuwe mediasentrum en ‘n rekenaarsentrum is tot stand gebring. Die terrein is ook oor die jare ontwikkel, teerblaaie is aangele, pawiljoene is aangebou, die snoepwinkel het tot stand gekom en tuine is aangele. Die skool se bus is ook in daardie tyd aangekoop.

Mnr. Van Rooyen was nie net ‘n dinamiese en innoverende skoolhoof nie, maar was terselfde tyd ook voorsitter van die Krugersdorpse Laerskolehoofdevereniging. Hy was voorsitter van die Wesrand krieket, Transvaalse bestuurder en afrigter en verteenwoordiger van die Wesrandse onderwysers. Hy dien in die Hoofbestuur van die Transvaalse Onderwysvereniging en het op die Sentrale Bestuur van die Belangegroep Laerskole gedien. Hy was ook verteenwoordiger vir die laerskole op die Skakelraad van die Streeksdirekteur.

In 1993 word hy bevorder tot Superintendent van Onderwys Akademiese Afrikaans. Hy het etlike taal-, spelling- en leeshandleidings wat dwarsoor Transvaal gebruik is, die lig laat sien. Hy het ook die eerste luisterontwikkelingsprogram in Afrikaans ontwerp en was die argitek van Musiek in Afrikaans, ‘n taalonderrigprogram gebaseer op Afrikaanse musiekvideo’s.

Mnr.Van Rooyen en sy vrou, Marianne is nog steeds baie betrokke in die gemeenskap van Krugersdorp. Die egpaar het twee dogters, Linda en Marietjie. Hulle is die trotse grootouers van vier dogters. Mnr. Van Rooyen is tans deeltyds verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Opvoedkundige Departement en bied ook gereeld geletterdheidsopleiding vir onderwysers aan. Hy kan nog lank nie stilsit nie en is daarom in die boubedryf betrokke, Marianne bedryf ‘n wegneemete-onderneming.