Geskiedenis
1994 tot 1999
Op 19 April 1993 begin Mnr. Andries Kruger sy ampstermyn as hoof van Laerskool Krugersdorp-Noord. Hy het sy studentejare by Goudstad Onderwyskollege voltooi en verwerf sy B Ed asook sy M Ed by die Randse Afrikaanse Universiteit.
Sy verhandeling gaan oor Onderwysbestuur: Interpersoonlike verhoudingstigting as assensie in skoolbestuur. Mnr. Kruger het sy onderwysloopbaan begin by Laerskool Jubileum in Mayfair Wes. Na vyf jaar as departementshoof by Laerskool Witpoortjie, het hy verskuif na Laerskool Dr Havenga – ook as departementshoof vir vier jaar – waarna hy Nories se hoof word.
Mnr. Kruger begin as hoof by Noordskool met ongeveer 700 leerders en vertrek na ses jaar met ‘n leerdertal van 982 leerders. Hy glo dat hierdie skool die fondasie en potensiaal het om dit tot ‘n nommer-een-skool te bou. Hy open die Andries Kruger Kunsgalery waar ‘n jaarlikse Kuns-, Vers- en Melodieaand gehou word. Die leerders se kunswerke word ten toon gestel en ouers kan selfs skilderye van hulle kinders se kunswerke koop. Gedurende sy termyn word drie wildsfeeste gehou, waartydens onder andere Steve Hofmeyer as gaskunstenaar optree. Die O/10, O/11, 2de en 1ste krieketspanne speel in die Wesrand finaal en die rugbyspanne dring deur na die Goue Leeus finaal.
Die huis langs die tennisbane word aangekoop en omskep in ‘n terapiesentrum waar arbeidsterapeute, sielkundiges en fisioterapeute leerders, wat deur die skool verwys word, behandel. Volwasse-onderrig word saans in ons klasse aangebied vir verdere onderwys. Die AMC bussie word aangekoop en die huidige naskoolsentrum word in ‘n Lapa omskep waar ouers, onderwysers en leerders saam kan kuier.
Mnr. Kruger se in 1993… “Ek glo daaraan dat daar ‘n sterk band tussen die onderwysers en ouers moet wees. Saam kan ons die skool bou as ‘n leier. Die belangrikste aspek vir my is dat ons kinders gelukkig is, want sodra die kinders die volwasse wereld betree, moet hulle voorbereid wees op ‘n verantwoordelike en onafhanklike lewe. Met positiewe personeel en ‘n betrokke ouerkomittee kan hierdie skool net vorentoe kyk en ek sien uit daarna om hierdie skool tot ‘n hoer vlak te bring”.
Hy dien op verskeie komitees en is die voorsitter van die Hoofdevereniging. Hy bedank die onderwys in 1999 en bekwaam homself as ‘n uitmuntende sakeman…